KONSEPMEDIAVERKLARING                                                                    8 November 2001

NUWE VERORDENING VAN STADSRAAD OM BUITEMUURSE REKLAME TE BEHEER

’n Nuwe verordening om buitemuurse reklame reg oor die Kaapse metropool te beheer, is deur die Stad Kaapstad goedgekeur. 

Ingevolge die Grondwet is beheer oor buitemuurse reklame nou ’n werksaamheid van plaaslike regering, en met die totstandkoming van die unistad het dit duidelik geword dat ’n verordening dringend nodig was.

Die verordening, wat beide die behoefte aan ekonomiese ontwikkeling en die noodsaaklikheid om die omgewing te beskerm in ag neem, is goedgekeur na ’n uitgebreide proses van openbare deelname. Die goedgekeurde wetgewing steun die stad se strategiese oogmerke soos die bevordering van toerisme, ’n veilige stad, ’n stad van geleenthede, regering na aan die mense, en ’n goed-bestuurde en sorgsame stad.

In die verlede het beheer oor buitemuurse reklame by elkeen van die Metropolitaanse Plaaslike Rade berus en verskillende standaarde is toegepas, hoewel daar algemene eenstemmigheid was dat die omgewingsimpak van reklame die grootste bron van kommer was. Ander kwessies was padveiligheid, strukturele veiligheid en openbare voordeel. 

In Januarie vanjaar is ’n Werkgroep oor Buitemuurse Reklame tot stand gebring wat ’n verordening vir die nuwe Stad Kaapstad moes opstel. Na daar reklame gemaak is vir openbare kommentaar en deelname, is ’n openbare verhoor op 23 Mei gehou. Nog 80 geskrewe voorleggings is gedoen, en al die kommentaar is in werksessies bespreek. Kwessies wat besondere belangstelling uitgelok het, was padveiligheid en reklame op Stadsraadeiendom.

Raadslid Brian Watkyns, voorsitter van die Beplanning- en Omgewingsportefeuljekomitee, is van mening die Verordening op Buitemuurse Reklame en Naamborde is dringend nodig om kwellinge oor padveiligheid en die omgewing te verlig.

“Ons moet eenvormige standaarde toepas wat die impak op toerisme en die natuurskoon van Kaapstad in ag neem, sowel as die regte van adverteerders en openbare veiligheid,” het hy gesê. 

“Die verordening is deur die volle proses van openbare deelname gevoer en ons is tevrede dat dit in die beste belange van die meerderheid van ons mense dien. Van nou af sal adverteerders presies weet wat hulle kan en nie kan doen nie, en dit sal die lewe vir hulle ook ’n bietjie makliker maak.” 

____________________________________________________________________________